SOLIDARITEIT TOEKENNING

 

‘Onwrikbare geloof dra NFSCG’

KROONNUUS - Deur Thurter 15 September 2015 

 

FELICITY COMBRINCK, voorsitter en stigterslid van die Northern Free State Care Givers (NFSCG)

dra die kroon as nasionale wenner in ’n landswye kompetisie van Solidariteit Helpende Hand.

Sy was die gunsteling om die Silwerkroon-eerbewys vir bejaardes wat vir meer as vyf  jaar aaneenlopend

’n verskil in hul gemeenskap maak te ontvang.

Dié oorkonde is Donderdag (10/09) op ’n glansgeleentheid in die Arcadia-gastehuis in Kroonstad

deur Vanessa Marais, streekorganiseerder van Helpende Hand in die Vrystaat, aan haar oorhandig.

Spesiale gaste is deur Combrinck na die geleentheid genooi.

Marais het Combrinck as ’n waardige wenner beskryf.

“As jy sukses wil bereik, moet jy geleenthede aangryp,” het Marais gesê.

Combrinck het aan die begin van die stemproses reeds uitgeblink. Dit is noodsaaklik dat die vereistes vir inskrywing

nagekom word en in die benoeming duidelik aangedui word dat die Koninkryk van God in die benoemde se

werksaamhede uitgebrei word. Dít doen Combrinck sonder om twee keer te dink.

Marais sê Helpende Hand se oogmerk is nie om mense lukraak te voed nie, maar om hulle te bemagtig.

Helpende Hand gee die spreekwoordelike visstok vir die mense en nie die visse nie, sê JB Joubert,

takvoorsitter van die Kroonstadse Helpende Hand-tak.

“Die fokus bly om armoede te verlig, te voorkom en te beëindig.”

Volgens Marais begin dié proses reeds by kleuters wat in die huidige swak ekonomiese klimaat in

Suid-Afrika ’n toekoms vir hulself moet uitkap.

Kinders word beurse aangebied en selfs getoets in ’n loopbaanrigting.

Met die R50 per maand waarmee inwoners Helpende Hand kan ondersteun, word teruggeploeg in die

gemeenskap waaruit skenkings kom.

Marais het gesê die doelwit is die verligting van armoede, maar dit is ook noodsaaklik om erkenning te gee

aan dié wat volhoubaar ’n positiewe verskil in gemeenskappe maak.

Talle bejaardes is weerloos, verwaarloos, ’n teiken vir uitbuiting en sukkel om kop bo water te hou.

“Ons kyk ook na dié mense wat die winterjare met waardigheid wil leef.”

Die kriteria waarvolgens die ses finaliste nasionaal aangewys is, het ingesluit dat die mense wat benoem is,

ouer as 60 jaar moes wees en onbaatsugtig mense bemoedig en bemagtig.

Dít doen Combrinck en haar span tuisversorgers met oorgawe. Tuisversorgers word opgelei om terminaal

siek kankerpasiënte te versorg. Hul lewensgehalte en waardigheid kry boonop ’n hupstoot omdat hulle

betaling kry en diensbare werk doen.

Combrinck het gesê sy kan nie alleen die eer kry nie. Inteendeel, sy bring lof aan die Hemelse Vader wat haar

in 2007 reeds gewys het dat sy as maatskaplike werker eers die klerehandel moes bemeester om die vertroue te

wen van die mense wat NFSCG nou ondersteun.

“Almal het verskonings as hulle geroep word om iets te doen. My verskoning was dat ek nie geld gehad het nie.

God het egter aan my ’n belofte gemaak dat ek nie daaroor hoef te bekommer nie, want Hy het ’n meesterplan

vir my droom om tuisversorging vir terminaal siek pasiënte te bied.”

Combrinck word omring met mense wat die werksaamhede van die NFSCG moontlik maak.

By uitstek noem sy die naam van haar regterhand, sr. Adri van Heerden.

“Sy skroom nie om ’n sterwende pasiënt by te staan wanneer ek haar in die middel van die nag bel nie.

Ons bad en trek die sterwende mens die klere aan wat deur die familie uitgekies is en bly by die pasiënt totdat

die laaste asem uitgeblaas is.”

Sy sonder haar man, Carel, uit as die man wat haar onvoorwaardelik bystaan en die eerste borg gebied

het vir die druk van pamflette om die NFSCG in die gemeenskap bekend te stel.

Cash en Hermien Truter het haar ook op talle wyses bygestaan om die NFSCG aan die gang te kry.

Hul bied onder meer verblyf kosteloos aan tuisversorgers in die dorp.

Combrinck sê skenkers aan die NFSCG kan gerus wees dat die geld net in hul eie gemeenskap gebruik word.

Uitgawes is tans sowat R60 000 per maand. Jaap Grobbelaar, ’n rekenmeester, hanteer die geouditeerde state

van die NFSCG gratis.

Cathy Lubbe, die NFSCG se sekretaresse, wat self ’n kankerlyer is, en haar man, Pieter, neem die administrasie

van die NFSCG waar. Cathy het Combrinck vir die Silwerkroon-eerbewys benoem.

Combrinck het ook Kroonnuus bedank vir die volgehoue beriggewing oor NFSCG se werksaamhede.

Spesiale vriende van haar, Werner en Marcia Relling, wat haar in ’n tyd van radeloosheid ’n werk as die bestuurder

van die vroueafdeling by Rellings aangebied het, het haar opgehef en waardigheid gebied toe dit die nodigste was.

Die werksaamhede van Combrinck en haar span begin om 04:30 as sy die tuisversorgers by die onderskeie plekke

waar hulle na terminaal siek pasiënte omsien, na en van hul werk- en woonplekke, vervoer.

Sonder geldelike steun van die regering moet die NFSCG al die uitgawes X soos die koop van volwasse doeke,

medikasie, vervoer en ander noodsaaklikhede X vir die menswaardige versorging van pasiënte dra.

“Hoe kry ons dit reg?

“Deur onwrikbare geloof,” benadruk Combrinck.

“Nog nie een keer het ek slapelose nagte oor geld gehad nie. God voorsien.

As ons die laaste paar doeke in voorraad uitdeel, daag iemand met ’n skenking op.

“Dit is hoe ons God ons instansie seën.”