KOLONKANKER

Ken die gevaartekens

 

Kolonkanker kom meer algemeen voor as wat mense dink. 

Maar dit hoef nie dodelik te wees nie. Die geheim is jy moet dit betyds opspoor.

2,500 nuwe gevalle in SA elke jaar

Kolonkanker 'n algemene kanker, ook bekend as kolorektale kanker, omdat dit ook die rektum kan betrek. Dit groei stadig en is simptoomloos in die vroeë stadia wanneer die behandeling nog baie suksesvol kan wees, sê prof. Paul Paradza, 'n kliniese onkoloogby die Unitas-hospitaal in Pretoria.

 

Daarom is gereelde toetsing so uiters belangrik.

In Suid-Afrika sal een uit elke 97 mans en een uit elke 162 vroue kolonkanker kry, volgens die Amerikaanse Kankervereniging. Kolonkanker is een van die vyf algemeenste kankers onder mans sowel as vroue wêreldwyd en in Suid-Afrika word minstens
2,500 nuwe gevalle jaarliks aangemeld.

Een uit elke drie mense wat met kolonkanker gediagnoseer word, sterf daaraan. Maar die goeie nuus is dat dit nie net ten volle
genees kan word as dit vroeg genoeg opgespoor word nie, dit is ook uiters voorkombaar, volgens prof. Paul Ruff.

Nog goeie nuus, sê prof. Paul Ruff, hoof van die onkologie-departement by die Universiteit van die Witwatersrand, is dat
kolonkanker een van die navorsingsvelde met die beste vordering is.

Dit kom hoofsaaklik voor by mense in die middel- en hoër inkomstegroepe, en verwestering en verstedeliking speel 'n groot rol,
sê hy. "Dit het te make met wat ons eet. 'n Vetryke dieet met min vesel is dikwels die oorsaak."

Studies toon ook 'n verband tussen hoë cholesterol en kolonkanker. "Dit hou verband met oorgewig.
Te veel liggaamsvet is om verskeie redes gevaarlik. Baie gifstowwe skuil in die vet, en dit affekteer nie net jou metabolisme nie,
maar ook jou immuunstelsel en dit benadeel jou liggaam se vermoë om kanker suksesvol te beveg."

Mense met ulseratiewe kolitis of 'n geskiedenis van Crohn se siekte loop ook 'n groter gevaar om kolonkanker op te doen as
ander en in 
uitsonderlike gevalle is kolonkanker oorerflik. Bo 50 jaar word die risiko vir kolonkanker by alle mense toenemend
groter en dit bly vergroot 
hoe ouer jy word.

Teken van hoop vir pasiënte

met kolostomie sakkies

Maar soms in sekere gevalle, is daar geen ooglopende oorsaak nie. Prof. Paul Paradza meen dis die geval met sowat 30 persent
van alle pasiënte. "Ek het al 'n kind van 17 jaar oud gehad wat in geeneen van die risikogroepe geval het nie," vertel hy.

Daarom benadruk kenners die belangrikheid van deeglike toetsing as jy verdagte simptome ervaar.

Die gevaartekens

  • Veranderinge in jou stoelgang. "As jy altyd hardlywig is en skielik begin sukkel met diarree of andersom, noem dit vir jou huisdokter. Net so as jy soms sukkel met hardlywigheid of baie los stoelgange," sê prof. Paul Paradza. Gereelde slymerige stoelgang is nog 'n gevaarteken.

  • Bloed in die stoelgang is slegte nuus. As jou stoelgang donkerrooi of swart is, of as jy bloed in die toiletbak of op die toiletpapier sien, gaan dadelik vir 'n deeglike ondersoek. Jou huisdokter sal eers die moontlikheid van aambeie uitskakel. Dring aan op 'n kolonoskopie. As jou stoelgang byna swart is, is dit 'n teken van kwaai inwendige bloeding, wat kan dui op gevorderde kolonkanker, maar dit kan ook 'n maagseer wees.

    • Kwaai, onverklaarbare moegheid wat gepaard gaan met onverklaarbare gewigsverlies.

    • Aanhoudende kwaai maagkrampe of maagpyn wat nie op gewone behandeling reageer nie.

    • Opgeblasenheid en 'n konstante gevoel van versadig wees.

  • Bloedarmoede, veral by mans bo 40, kan dui op bloeding in die kolon wat nog nie met die blote oog waargeneem kan word nie. Mans bo 40 wat met onverklaarbare moegheid sukkel, moet hul bloed-ystervlakke laat toets, sê prof. Paul Paradza.
    Jou dokter sal ook 'n monster van jou ontlasting laat toets vir tekens van bloeding.

Hoe toets dokters vir kolonkanker?

Jou huisdokter sal tydens 'n gewone ondersoek op jou maag druk om te voel vir vergrote kliere of 'n vergrote massa in die buikholte.

'n Rektale ondersoek kan moontlik gedoen word en feses kan gestuur word vir toetse vir bloeding.

Nog toetse soos 'n barium-enema (x-strale waarvoor jy vooraf 'n kontrasmiddel drink), 'n sigmoïedoskopie, kolonoskopie en/of biopsie van verdagte weefsel sal toon of jy kolonkanker het of nie.

'n Sigmoïedoskopie is 'n prosedure waar 'n verligte buis deur die anus en via die rektum na die laerliggende deel van die kolon gestuur word om kwaadaardige poliepe op te spoor.

Ongeveer 65 persent van kolonkankers kan só opgespoor word. Dit is veral belangrik omdat kanker in die laer dele van die kolon en in die rektum maklik gemis kan word met 'n kolonoskopie, sê prof. Paul Paradza.

'n Kolonoskopie werk net soos 'n sigmoïedoskopie, maar die hele kolon kan hiermee ondersoek word. Albei prosedures sal deur 'n gastroënteroloog gedoen word.

Dis nie pynlik nie, maar ongemaklik, en word onder ligte verdowing gedoen. Jy sal vooraf middels moet drink om jou derm heeltemal skoon te maak.

Foto:

Erkenning aan die

 Kankervereniging van

 Australië

Die toetse wat kan keer dat jy kolonkanker kry

Gereelde toetse, of jy nou simptome het of nie, kan die risiko van kolonkanker dramaties verklein.

Die grootste oorsaak van kolonkanker is adenoom-poliepe in die dermwand. Die meeste is nie kwaadaardig, maar daar is 'n kans
van 1 persent dat poliepe kwaadaardig kan word en dat die kanker dan verder in die kolon en elders kan versprei.

'n Dokter sal poliepe wat tydens 'n roetine-ondersoek opgespoor word, verwyder en laat ontleed. As dit nie kwaadaardig is nie,
word die moontlikheid van latere kwaadaardigheid so uitgeskakel, en as dit wel kwaadaardig is, word dit hopelik verwyder voor
dit na die res van die kolon versprei, wat die kans op volkome hersteltot 90 persent verhoog.