STERWENSBEGELEIDING

Dis nie 'n woord wat mense aldag wil hoor nie, maar dit is 80% van ons werk
hier by die Caregivers. Noem die woord “sterwensbegeleiding” en baie mense
sien in hul geestesoog ’n stroewe dokter of verpleegster wat die verrimpelde
hand van ’n vereensaamde mens vashou in die donker nag van die siel voor
die finale duisternis. Die werklikheid is veel meer kompleks – nie sonder pyn en verlies nie, maar uiteindelik meer opheffend en positief. Deel van ons missie
is die bevordering van ’n gehalte lewe, waardigheid in die sterwensproses en ondersteuning vir almal wat met ’n lewensgevaarlike siekte moet saamleef.

Ons gebruik ’n spanbenadering met ’n holistiese mikpunt om fisieke,
sielkundige en geestelike ondersteuning te verleen, nie net aan die pasiënt
nie, maar ook aan sy of haar geliefdes.

Daar is ’n snel groeiende behoefte aan hierdie soort diens.
Hoe­­wel baie pasiënte met hierdie siektetoestande tuis versorg word,
is dit nie altyd volhoubaar nie.

Kanker en ander terminale siekte is lang, harde siektetoestande, wat ook hul tol
eis van die geliefdes wat na die pasiënte omsien. Hewige verskille ontstaan soms
uit onkunde. Die meeste van ons pasiënte verkies om tuis te sterf by hulle geliefdes.

Tuis kan elke pasiënt staatmaak op ’n versorgingsplan wat saamgestel is om aan sy of haar spesifieke behoeftes te
voldoen en wat uitgevoer word deur ’n span deskundiges wat saam met ons werk in Kroonstad.