Volgens Felicity het sy gedien op die kerkraad van

Kroonstad-Suid Gemeente sowat 9 jaar gelede.

Vereensame bejaardes was op daardie stadium ‘n

groot probleem wat die kerk ondervind het en

hulle het gevoel dat daar navrae gedoen moet word

na beskikbare plekke/grond om daadwerklik

aan bekostigbare verblyf aandag te skenk.

 

Felicity vertel van haar droom

 

Ek en my man, Carel, het dadelik aan die werk gespring en op twee erwe in Fowlerstraat, Suidrand, afgekom

wat ideaal geleë is want dit is naby die kerk. Op daardie stadium het ek, Willie le Roux, (ek noem sy naam want

hy speel ‘n kardinale rol in die ontwikkeling van ons projek) se vrou gehelp deur haar drie maal per week te

gaan bad en versorg. Ons twee het soms so hard en vals gesing dat hy kom hoor ek wat maak so ‘n geraas! 

Ons geliefde stukkie was ‘Wees stil en weet Ek is die Heer!’ Ek het vir Willie van die erwe vertel maar ons het

intussen daarvan vergeet. Ella, Willie se eggenote, is omtrent ‘n jaar of twee daarna oorlede.

 

Gedurende 2010 versorg ons organisasie ‘n man wat by sy kinders in haglike omstandighede in ‘n buitekamer

bly! Hy was gediagnoseer met prostaatkanker en gangreen van sy tone. Hy was deur Nasionale Hospitaal

ontslaan waar hy meegdeel is dat hulle niks verder vir hom kon doen nie.  Hy was erg verwaarloos.

Een oggend het ons hom in sy kamer aangetref waar miere en vlieë op sy wonde is! Ek het dadelik besef dat

ons vir hom ander verblyf sal moet kry!  Nie hy, sy kinders of ek het geld om vir hom by ‘n plaaslike inrigting

huisvesting te kry nie. Die kinders stel my in kennis dat hulle nie kans sien om hom verder by hulle te huisves

nie en dat hulle vir hom plek in die Hospice by die ou Voortrekker Hospitaal gekry het. Hulle het ook gesê dat

ek hom moet kom haal en daar gaan aflaai. Hy pleit dat hy nog net een aand daar (by sy plekkie) wil slaap.

Gelukkig begin dit reën en ons besluit dat ek hom eers die volgende dag sal neem! Diè oggend, ‘n paar dae

voor Kersfees, het aangebreek toe ek hom moes neem! My hart wou breek, want dit was ook nie die ideale

plek nie. Oppad na die Hospice, bid ek in die motor dat God my asseblief ‘n teken moet gee en dat Hy my

met wysheid sal vul om die regte besluit te neem. 

 

My selfoon gee my ‘n sein dat daar geld in ons bankrekening inbetaal is.  Ek hou stil en kontak Petz Sadler

wat die Ami Amor Versorgingsplek bedryf het en stel vas wat die koste sal wees om die pasiënt te versorg tot

die einde van die maand. Presies die bedrag wat inbetaal is in ons rekening en NIEMAND het van my stryd

geweet nie.  Ek bespreek dadelik vir hom plek, neem ‘n hospitaalbed met skoon linne daarheen en gaan laai

hom op. Die pasiënt kon dit nie glo nie!  Hy was in ‘n skoon bed, met liefde omring en menswaardig hanteer.

Hy kort-kort gevra hoe lank hy daar gaan bly.  Ek kon hom verseker tot die einde van die maand.  Hy sterf

ongelukkig slegs 3 ure nadat ons ‘n gesprek gehad het oor die Ewige lewe en God se liefde vir hom.  Dit het

duidelik geblyk dat hy sy hart vir die Here gegee het en dat hy Hom aangeneem het as Verlosser en Saligmaker.

 

Hier het God die droom van ‘n versorgingsplek in my hart geplaas

 

Twee jaar later kontak Willie my en vra of ek al werk gemaak het daarvan om die erwe te bekom.  

My antwoord was natuurlik nee.  Hy maak ‘n afspraak met Hennie Ludick van Moqhaka Munisipaliteit,

ons doen ‘n voorlegging en NFS Caregivers koop die erwe met die geld wat Kroonstud Game/Wild aan ons

geskenk het. Daarna word geduldig vir 5 jaar gewag om die hersonering goedgekeur te kry.

Ek het altyd gesê: Ons wag op die Here as dit Sy wil is, en nie net my hartsbegeerte nie,

sal ons die  nodige toestemming kry.  Ek glo dat indien hierdie projek binne die wil van

ons Vader is, ons wel  die geld sal kry.

 

Pak vrees my beet in die beplanning van hierdie grootse projek? Ja!

 

Hoekom dit dan aanpak? Dit is ‘n droom wat God in my hart geplant het! Ek lees eendag ‘n stuk wat

dr Christo Nel geskryf het net nadat ek hierdie droom van God ontvang het en dit onderskryf sò wat ek

ervaar dat ek dit my eie gemaak het! “Elke diepste hartsbegeerte of droom van enige Christen is belangrik,

want die hart of kern van daardie droom is in die hart van God gebore”.

 

Soms droom ons dinge moet op ‘n bepaalde manier gebeur, maar dit is eers wanneer ons dit waag om ons

voete in die water te sit en dit waag om dit waar te maak dat ons in die proses ontdek wat werklik in God se

hart was. Waar ons leer om God se Woord en beloftes aan ons in geloof vas te gryp en daarop ons hoop begin

bou, vra daardie soort geloof dat ons die een of ander tyd tot aksie begin oorgaan.  Ons moet waag om ons

voete nat te maak en uit die boot te klim.  Ons moet vir God iets gee om deur Sy Gees lewe in te blaas.

God is ‘n goeie Rentmeester.  Hy mors met niks, nie met tyd of geld nie.  As Hy dus tyd maak om

hartsbegeertes en drome vir jou te gee, dan gaan Hy nie vir jou drome gee wat Hy nie waar wil of kan maak nie.

Die oomblik as jy ja begin sê vir God se plan en drome vir jou lewe, kry jy soveel meer op die koop toe as

wat jy ooit kon droom. Maar net God kan deur Sy Gees jou hiervan oortuig. God se begeerte is dat ons sal

word wat Hy oor ons droom.”

 

Wie gaan daarby baat?

 

Die hele gemeenskap van Kroonstad.

Die inrigting gaan bestaan uit 3 vleuels: 1. Kanker pasiënte, 2. TB pasiënte en 3. HIV/Aids pasiënte.

 

Waar gaan die geld vandaan kom, dit is duur om te bou en hoekom koop julle nie liewer

‘n ou huis en gebruik dit nie?

 

Ons wag geduldig vir 5 jaar om die hersonering goedgekeur te kry.  

Ek glo dat indien hierdie projek binne die wil van ons Vader is, ons wel die geld sal kry.

 

NFS Caregivers wat verlede jaar 10jaar oud geword het, is slegs op geloof gebasseer.

Toe God my geroep het om hierdie organisasie te stig het ek 2 verskonings gehad.

1. Ek het nie geld nie (ek het die droom gehad om gratis versorging vir terminale pasiënte bied) en

2. Ek weet nie hoe nie! Sy belofte aan my was: “Ek sal meer voorsien as waarvoor jy vra indien jy

My gehoorsaam is en Ek sal jou bekwaam maak.”

 

Vandag kan ek getuig dat ek elke dag van my lewe bewus is van God se teenwoordigheid, Sy goedheid en

guns en Sy voorsiening, deur donasies, in al ons behoeftes in ons organisasie. Daar is tans maande waar

ons uitgawes R70,000 is. Dit sluit in slegs versorging van pasiënte, ons apteek rekening vir medikasie

(wat die pasiënt nie kan bekostig nie), aankoop van doeke en hulpmiddels om versorging te vergemaklik. 

 

Ek het nog nie een slapelose nag oor geld gehad nie. God fluister in ons donateurs se ore om donasies aan

ons te maak en ons doen fondsinsamelings.  Ons vra nooit geld vir ons werk nie, want ek glo ons versorging

moet van sò ‘n aard wees dat ons guns in die oë van ons Vader ontvang en dat donateurs vanself navore kom.

God gebruik gehoorsame mense om Sy belofte waar te maak. Ek beleef dit elke dag!

 

Hy sal my bekwaam maak!

 

Hy het 3 wonderlike susters, innige kinders van die Here, voorsien. Eers vir sr Esther Viljoen wat ons opleiding

gegee het en ‘n handleiding geskryf het oor hoe om ‘n terminale pasiënt tuis te versorg.  Net toe sy uit Kroonstad

verhuis, voorsien God aan ons sr. Adri van Heerden.  Sy is nooit suinig met haar kennis nie en het alles met my

gedeel en my bemagtig met kennis sodat ek vandag alleen kan uitgaan en met selfvertroue stomas versorg.

Toe sr. Adri met kanker gediagnoseer is het God vir sr. Jorietha Heymans na ons gestuur wat kon waarneem

terwyl sr Adri haar behandeling en operasie ondergaan het. Laasgenoemde gaan by ons aanbly en sy doen

ook diens by Kroon Hospitaal en is baie betrokke by verwagtende ouers d.m.v. voorgeboortelike klinieke.

So voorsien God in al ons behoeftes.

 

Hoekom gebruik julle nie die ou Verpleegsterstehuis van die Voortrekker Hospitaal nie?

 

Daar het boemelaars en werklose mense hul intrek in die gebou geneem, alles is omtrent verniel, vuurgemaak

in die plek en afgebreek en gesteel wat hulle kon. Die Provinsie het alreeds die ou Kraamsaal gegee vir ‘n

hospice wat deur ene Gladys van Boitumelo Hospitaal in haar private hoedanigheid bestuur word.

 

Hoe gaan julle die plek bedryf en hoe gaan dit lewensvatbaar wees?

 

Dalk is ek naïef maar ek hou aan God se belofte dat Hy meer sal voorsien as waarvoor ons vra vas. 

Ek kan nie vir julle vertel hoeveel mense al vir my gesê het dit is onmoontlik om hierdie diens wat ons lewer

sonder geld en net met geloof te doen nie. Ek weet dit, maar geloof is om jou fokus op God te rig, uit die (boot)

bekende, veilige te klim en op die water te loop.  Nooit jou oë en jou fokus weg te draai van God nie en te glo!!!

Onwrikbaar te glo en om alles tot sy eer en verheerliking te doen.  Alles moet binne Sy toelaatbare wil geskied.

 

My begeerte en droom is om soveel as moontlik van vrywilligers gebruik te maak om sodoende koste te bespaar.

  Daar is soveel mense wat hulp aanbied, maar nie kans sien vir fisiese versorging nie.   Ons kan ook nie mense

vir versorging gebruik sonder dat hulle opleiding ondergaan het nie.

 

Ek beoog om Bybelstudie groepe, kleinsel groepe, vroue organisasie ens. te nader om bv. behulpsaam

te wees om bv. in die kombuis te kom diens doen.  Hulle kan behulpsaam wees met die skil van groente

op ‘n vrywillige basis.  

 

Iemand vra my weet jy watter nagmerrie dit is om met vrywilligers te werk?

 

My eenvoudige antwoord is “God sal die regte mense voorsien!” Ek wil nie mense in diens neem om daardie

take te verrig nie, want dan moet ons registreer by Departement van Arbeid as ‘n permanente werkgewer

wat weer verskeie unies en al die probleme wat daarmee gepaard gaan meebring.

 

Gaan daar 24-uur verpleeg versorging teenwoordig wees?  

 

Verseker gaan daar 24-uur versorging gedoen word.  Daar gaan wetlike aspekte wees waaraan ons sal moet

voldoen. Daar sal aandag geskenk word aan al daardie vereistes. Daar sal gekwalifiseerde susters wees om die

medikasie uit te deel en daar sal susters beskikbaar wees deur die nag, wat op ‘n op-roep-basis sal diens doen.

 

Gaan die verblyf kosteloos wees?

 

My begeerte is om steeds alle kanker pasiënte gratis te versorg, soos ons tans by die huise doen.

Ons beoog egter om mediese fondse te akkommodeer by die versorgingsentrum. Daar sal genoeg spasie

om ‘n hospitaalbed in ‘n gang af te stoot, om rolstoel vriendelik te wees en dat die versorgingssentrum ook

as ‘n “stepdown” gebruik kan word.  Hospitaal verblyf is baie duur en ‘n pasiënt kan dan teen ‘n goedkoper

tarief by ons versorg word totdat heeltemal herstel. Die HIV/AIDS en TB pasiënte kan moontlik versorg

word d.m.v. hul SASSA toelae.

 

Gaan die huidige tuisversorging nog steeds gratis in die dorp gelewer word?

 

Tuisversorging is ‘n baie duur diens. Dit kos ons organisasie ongeveer R14,000+ per maand om by een

huis 24-uur versorging te doen. Dit sluit nie die doeke, medikasie, brandstof uitgawes, pleisters en salwe

en ander benodigdhede in nie. Ons beplan om vir die sterwende kankerpasiënte se families tydelike verblyf

te verskaf, waar hulle kan tuis gaan tydens die sterwensproses van hul geliefde. Op hierdie stadium weet

ek nog nie of ons sal voortgaan met die tuisversorging nie. Ons beoog egter om die versorgingsentrum

so ‘n liefdevolle plek vol deernis en passie te skep waar God se Liefde aanvoelbaar sal wees dat dit vir

hulle soos hul eie huis sal voel.

 

Gaan die tuisversorgingsentrum slegs deur vrywilligers beman word?

 

Dit gaan hoofsaaklik deur vrywilligers beman word. Soos ons nou ook met die tuisversorging doen deur

vir die versorgers met ‘n stipend/honorarium te vergoed vir hulle dienste gelewer.

Die kantoor administrasie sal ook moontlik met ‘n honorarium vergoed word. Dit skakel die Registrasie by

SARS en  Departement van Arbeid uit. Die beskikbaarheid van fondse sal sekerlik later die uitsluitsel

hieroor finaliseer.

 

Gaan daar van die plaaslike dokters betrokke wees?

 

Die afgelope 10 jaar werk ons organisasie baie goed en in afhanklikheid saam met al die dokters in die dorp. 

Een van ons vaste beginsels is dat ons nooit mediese besluite neem sonder die goedkeuring en

medewete van die pasiënt se algemene praktisyn of onkoloog nie. Ek voorsien nie dat hierdie goeie

verhouding sal verander nie. Daar sal sekerlik nog steeds pasiënte verwys word na Kroon Hospitaal of

Boitumelo Hospitaal indien hul dokter dit verlang. 

Ons sal nooit iets doen wat ‘n gevaar sal inhou vir ‘n pasiënt nie.

 

Wat gaan gedoen word vir die verligting van pyn en moontlike opoïde verslawing?

 

Weereens sal ons baie nou saamwerk met die dokters wat by die pasiënt betrokke is. Ons beskik oor

twee morfienpompies wat in uiterse gevalle van pyn verligting gebruik word. Dit word gemonitor deur

die gekwalifiseerde, geregistreerde suster en dokter. GEEN opoïde medikasie kan voorsien word

behalwe wanneer voorskrif deur die pasiënt se dokter uitgereik word.

 

Wat van mense met “multiple sclerosis” en motor neuron siekte?

 

Ons sal alle terminale pasiënte inneem.  Dit sal egter nie kosteloos wees nie.  

Dit sal in ooreenstemming met Mediese Fondse se tariewe en goedkeuring wees. In beginsel het

ons teen ALZHEIMER se siekte besluit omdat ons nie in hierdie veld gespesialiseerd is nie.

 

Gaan ons aan Hospice S.A. behoort?

 

Op hierdie stadium dink ons nie daaraan nie.

© 2020 NFS Caregivers. All Rights Reserved.

Hosting and design by Digital Ideas

This website is sponsored by Digital Ideas